Sterf terwyl hy vakansie hou in SA

Kapt. Joyce Nhlapo, Deneysville-stasiebevelvoerder, spreek bekommerde inwoners toe ná die moord gisteroggend op mnr. Louw Naudé. Foto: Sonja van Buul.

Apr 02 2009 10:03:45:970PM – (SA)

Sonja van Buul

Deneysville. – ’n Man wat vier dae gelede in Suid-Afrika aangekom het vir ’n vakansie van drie weke, is met drie skote doodgeskiet in sy huis hier.

Mnr. Louw Naudé (47) van Deneysville wat in Angola werk, is gister omstreeks 02:30 in ’n vermeende huisrooftog doodgeskiet.

Sy vriendin, me. Ilse Fourie van Vaalpark, wat saam met hom was ten tyde van die aanval, is ongedeerd.

Naudé se ma, mev. Oba Pienaar, wat in ’n huis langs haar seun woon, het wakker geskrik van die skote en hulp ontbied.

Volgens die polisie het een van vier rowers oor Naudé se tuinmuur gespring, aan die buitekant teen die huis opgeklouter en toegang gekry deur ’n balkondeur wat nie gesluit was nie.

“Mnr. Naudé het wakker geword en die rower het hom drie keer geskiet,” het die polisie aan sowat 200 bekommerde Deneysville-inwoners gesê.

Dié inwoners het ure ná Naudé se dood ’n noodvergadering met kapt. Joyce Nhlapo, Deneysville-stasiebevelvoerder, gereël om hul kommer uit te spreek oor die toename in misdaad.

Hulle het ook ’n petisie aan haar oorhandig.

“Dit is jammer ons ontmoet eers nadat iemand vermoor is,” het Nhlapo gesê.

“Deneysville word as ’n stil, amper misdaadvrye dorp beskou en die inwoners raak oorgerus,” het sy gesê.

Sy het erken daar is nie genoeg personeel en voertuie om die dorp te beveilig nie en die gemeenskap gevra om betrokke te raak by misdaadvoorkoming.

Volgens konst. Sellwane Legae, polisiewoordvoerder, word net Naudé se selfoon vermis en soek die polisie die verdagtes nog.

Volgens mev. Tina Odendaal, familiewoordvoerder, is Naudé in sy maag en skouer geskiet. Hy was volgens haar nooit getroud en het geen kinders nie. Hy het in Angola vir ’n Amerikaanse maatskappy gewerk.

Naudé word ook oorleef deur sy pa, mnr. Gerrie Pienaar en twee broers, Eduan van Pretoria en Thys van Johannesburg.

Sy begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2496052,00.html

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s