18-jarige skuldig aan Marlothpark-moord

2009-10-09 09:25

Buks Viljoen

’n 18-jarige Mosambieker wat vir langer as ’n jaar deel van ’n bende was wat ’n skrikbewind in Marlothpark naby Komatipoort gevoer het, is gister skuldig bevind aan die moord op ’n Pretorianer.

Mnr. Fanie Keyzer (47) is op 29 Desember 2007 ten aanskoue van sy gesin by sy vakansiehuis op Marlothpark met ’n AK 47-aanvalsgeweer doodgeskiet.

Shadrack Ndunkula is gister in die rondgaande hof in Graskop aan Keyzer se moord skuldig bevind. Hy is ook skuldig bevind op twee aanklagte van poging tot moord.

Die saak spruit uit ’n aanval in Junie 2008 toe hy en ’n makker op die Fitzgerald-egpaar, wat ook in Marlothpark bly, toegeslaan het.

Mev. Allison Fitzgerald (46) het vroeër die week getuig haar linker-ringvinger se punt is afgeskiet toe daar met die AK?47 op haar geskiet is.

Ndunkula, wie se ouderdom op die klagstaat as 17 aangegee is, het in sy getuienis erken hy is in werklikheid 18 jaar oud.

Hy en sy makker (12) is kort ná die aanval op die Fitzgeralds op ’n plaas naby Marlothpark aangekeer. Die polisie het die 12-jarige doodgeskiet.

Dinsdag, met die begin van die verhoor, het Ndunkula erken hy was deel van die bende wat die skrikbewind gevoer het, maar ontken hy het ooit die AK?47 gehanteer.

Toe hy egter Woensdag begin getuig, het hy onverwags ontken dat hy enigiets van die vuurwapen weet.

Regter Pierre Rabie het in sy uitspraak gesê hy verwerp Ndunkula se weergawe van die gebeure, juis omdat hy homself telkens weerspreek het.

Hy het Ndunkula op al ses die aanklagte waarop hy tereg gestaan het skuldig bevind. Behalwe die moord en twee klagte van poging tot moord is hy ook skuldig bevind op ’n aanklag van gewapende roof en die onwettige besit ’n vuurwapen en ammunisie.

Die saak is tot 29 Maart uitgestel vir vonnisverrigtinge.

Orsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/773eb62144c34e4caa7c629705c21b0f/09-10-2009-09-25/18-jarige_skuldig_aan_Marlothpark-moord_

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s